"Eerste Nag" deur ANTJIE KROG [boodskap #19667] |
Sa, 26 Desember 1998 00:00 |
G.B.
Boodskappe: 2174 Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Uit: Siklus ("Mannin", 1975)
Antjie Krog
EERSTE NAG
uit die verlate skag van die huis
het hy na haar kamer gekom
en met die oopgaan van die deur
het alles, verblindend soos 'n perskeboom, begin blom
hy was alleen in die spieël van die maan
die v van sy bors
die soepel sekel van heupe en
skraal dye
het skugter voor haar bed kom staan:
- onder die gesplete wit pajama kon sy sien
hoe spits wag
die sagte skulp van sy geslag -
hy was so jonk en mooi in sy blonde krag
sy hande reeds volwasse van teerheid
sy oë bloeiselsag
en bokant die huis, in die koerslose nag
het die sterre begin draai
asof hulle van haar geboorte af
op hierdie teken wag
toe hy soos 'n kalfie teen haar kom lê
die lakens onder sy ken gevou
wou sy hom nog 'n storie vertel
soos sy ma in sy kleintyd vir hom nagsê
maar die ruite het verbleek
sodat hulle woordeloos na mekaar moes draai:
sy, omdat sy al wat sy het vir hom wou gee
al sou hy deur vlegseljare breek
om van 'n pophuis, met gordyntjies
wat deur die vensters waai,
'n grootmenshuis te maak
wat gemeubileer met vrede,
daglank in sy sonlig week
hy omdat hy haar wou besit
nie soos 'n viking met bloed en
lawaai
maar stadig soos 'n blom
vanself sy kelk na die son toe draai
onder die loom trosse van sy lag
was sy syne gewees
en het hy met ladings ingeskuif
vir altyd tussen haar en die
maagdelike bron van haar krag.
|
|
|